Uit "Joernaal van Jorik" deur D.J. OPPERMAN [boodskap #12181] |
Sun, 18 January 1998 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2173 Geregistreer: May 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Uit JOERNAAL VAN JORIK
D.J.Opperman
En Wiesa met haar hare wit soos brak,
kyk na die vuurtjie binne alle dinge;
sy laat die rook van vlam en kole sak
tot voorbodes en ou herinneringe;
en sy vertel hom mymerend van 'n volk
in windoop ruimtes van 'n land gevorm
wat opstyg uit die see tot in die wolk
waar God praat in die weerlig en die storm;
sy noem hul opstand teen die vreemde ras;
roep ou gesigte voor haar uit die vlam,
van vegters, vryburgers soos Adam Tas,
dorpies soos Graaff-Reinet en Swellendam.
En sy vertel hom van die heuninggat
waarin Frederik Bezuidenhout
met sy geweer aanlê en weier dat
vier Hottentotte en 'n Kakieskout
en nog 'n hele boel daarby hom vang.
"En soos jy weet, my seun, die tou was vrot
waaraan die vier opstandiges moes hang;
party sê dis toeval, maar ons sê dis God."
Vertel hom van die vlam en donker mens
wat in die ooste om die huise saans
ou liedere van impi's sing, die grens
van kinders en 'n volk se lang stoet waens.
"Hy het ons van verdrukking afgesonder
.... kwyldrade van die osse blink oor gras....
dat ons in stiltes weer opnuut die wonder
van Hom sou ken, soos Hy hier eenmaal was."
En sy vertel hom van die leed en angs,
verraad en moorde soos op Piet Retief,
van nagte soos by Weenen en Bloukrans,
en liggame met assegaai deurklief.
"Hy was met ons die nag by Bloedrivier
toe lang sweepstokke met lanterns swaai,
Hy was ons eerste lig oor die visier
toe die kruitdamp oor Amajuba waai.
En volke het om hierdie land van ouds
gevaar en in gruisgate rond gesoek
soos erdvarke; maar die Stad van Goud
moes óns klein volkie later vind... tot vloek!
En hulle het ons huise afgebrand.
Hóé kon die rykes van 'n ryk ooit weet
dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
al moes ons in die veld rysmiere eet?
En soos mens snags in dieptes van die Baai
se waters sien hoe skommel ster en lampe,
sê in 'n donker kol van hierdie volk, swaai
beelde nog van Konsentrasiekampe.
Ek stap een oggend uit die Kamp en sê:
'Kyk, sien ek vanoggend 'n duisend skaap
wat op die vlaktes so in hopies lê?
Maar nee!' sê ek. 'Dis mos waar dooies slaap.'
En nou waar miershoopkamers en rotstuine
staan, en skepsels koekepanne laai,
lê hulle stil: ou vegters in die bruin
komberse van die aarde toegedraai."
|
|
|